|
Jak De Priester
Van kindsbeen af het Jak de Priester geen
geleentheid gemis om op die verhoog te wees nie.
Toneel, sang, voordra van gedigte op kunswedstryde
en toesprake het hom van kleins-af die adrenalien
laat ervaar van hoe dit is om voor mense op te tree.
In die Vrystaatse dorp, Parys, het hy sy skooljare
met passie deurgebring en alles gedoen van sport tot
kultuur tot akademie.
In sy standerd 9 jaar ontmoet hy Johan van de Walt;
wat Drama by die skool kom afrig het. ‘n Snaakse man
met lang hare en ‘n bulderende stem, maar ‘n mens
wat ‘n standerd nege seun se lewe verander het.
Jak
het van kleins-af geweet hy kan toneelspeel en
bietjie sing, maar nooit geweet dat êrens in hom
skuil ‘n skryftalent nie. In sy matriek jaar, gee
Johan hom die opdrag om die teks te skryf vir die
skoolse toneelgroep wat aan die ATKV se
tienertoneelkompetisie sou deelneem. Al wat Jak tot
op daardie stadium in sy lewe geskryf het was
opstelle en briewe in Afrikaans en Engels, as vak op
skool en omdat dit nog altyd vir hom moeilik was om
nee te sê, neem hy die taak toe wel op hom.
So skryf hy sy eerste toneelstuk, getiteld “Nr. 10”
, wat handel oor wit kinders wat noodgedwonge in ‘n
plakkersgemeenskap moes gaan woon. Die Vrystaatse
skoolgroep oortref alle verwagtinge en stof honderde
skole oor die land uit om in die finaal in Kaapstad
te gaan deelnaam. Jak ontvang daardie aand ‘n
penning vir die beste speler en ook vir sy
nuutgeskrewe teks. Maar, dit was nie net ‘n ronde,
goue muntstuk en ‘n sertifikaat wat hy daardie aand
ontvang het nie, hy het ook die geskenk en geloof in
homself ontvang om te kan skryf en te wil skryf.
Op daardie stadium het hy net geweet dat skryf en
die verhoog deel gaan uitmaak van sy toekoms,maar
hoe, waar en wanneer sou vrae wees wat eers later in
sy lewe beantwoord sou word. |